Moenie na die sandbanke swem nie, swem na die Rots



In 'n storm waarheen swem jy?

Nadat die een golf na die ander oor ons is het ek een aand ‘n ruk terug wou opgee...
Ek het by Jesus se voete gehuil…ek was op, ek het altyd moed gehou maar die storms het net te erg om ons gewoed en het ek  vir die eerste keer in my lewe daardie aand moed verloor dat dinge ooit weer beter sal gaan...

Vir jare nes ons dink dit gaan beter word tref die volgende golf ons...dit waarop ek gehoop het wat uitkoms moes gee bly ons ontwyk, of bring nie die uitkoms waarvoor ons gehoop het nie.

Die Here herinner my die volgende dag aan 'n insident toe ek jonk was. Ek en 'n vriendin het saam met my broer hulle geswem in die see en die seuns het tot by 'n sandbank geswem dieper die see in waar hulle halflyf in die water kon staan.
Ons besluit toe dat ons ook tot daar gaan swem maar het nie rekening gehou met die stroom en hoe diep dit sou wees tot daar nie. Die seuns het met hul rug na ons gestaan en was onbewus van wat agter hulle aangaan.

 Omdat swem my sport was en ek sterk kon swem het ek toe my vriendin in die moeilikheid raak haar probeer help deur onder haar in te gaan en haar dan te stamp om haar so te probeer kry tot op die sandbank (wat nou maar 'n meter van ons af was) maar herhaalde pogings het misluk...
Ek het MOEËR EN MOEËR  begin word...later was ek ook in die moeilikheid en ek het begin vrees ons kan alby verdrink maar deur die Here se genade kon ons net-net daarin slaag om om te draai en uit te swem strand toe. Ons was op.

Die Here wys my toe ek is nou in 'n situasie soos daai tyd. Ek probeer almal om my tot op die "sandbank" kry. Ek dink as ons net deur hierdie krises (diep water/sterk stroom) kan kom dan gaan dit weer beter gaan

Ek stem sommer dadelik saam met die Here...
"ja Here dis hoe dit voel...en ons is só moeg ons voel of ons wil opgee en verdrink ons kom net nie daar"

__________________________________________________
Toe sê die Here vir my in my hart, maar dis jou probleem...
JY SWEM VIR DIE SANDBANKE en nie VIR DIE ROTS!
___________________________________________________

Ek besef sonder dat ek dit besef het, het ek op mense, omstandighede en selfs gehoop op die einde van die storm vir uitkoms en nie op Jesus alleen.

Ek het vir Hom oplossings gebid ipv die probleem 


Selfs die sterkste swemmer sal verdrink as hy te lank moet aanhou swem of as hy nêrens het om heen te swem nie.


Hy wil nie hê ons moet OPGEE nie, maar OORGEE aan Hom.
As 'n lewensredder jou kom red is dit ook wat hy van jou vra, dat jy beheer aan hom sal oorgee.

Vir elkeen van ons is die sandbank iets anders waarop ons VERTROU/HOOP vir uitkoms....
SANDBANKE sal met elke gety en met elke storm skuif en is nie standvastig.  Dit verskuif gereeld en bly daarom buite bereik en verdwyn selfs…jy bly swem en swem met die hoop dat jy jou voete op die sandbank kan rus…jy word bitter moeg, moedeloos en kan OPGEE ...Dis ook glad nie stormbestand.

Maar die ROTSE by die see is altyd op dieselfde plek...dit verander nooit...dis vas en stewig en die die ergtse storm en golwe kan niks daaraan doen.

 Ek onthou ook toe die gedeelte in die Bybel waar die Here sê, bou jou huis op die Rots en nie op die sand...as jy op die sand bou gaan jou huis platval as die storms van die lewe jou tref, maar as jy op die Rots bou sal jy behoue bly TE MIDDE VAN DIE STORM.

Nêrens  belowe die Woord ons dat Hy ons om elke storm sal vat nie, maar wel dat Hy ons daardeur sal vat, nooit verlaat of in die steek laat nie…al gaan ons deur diep water Hy is by ons, soos Hy ook daardie dag by my en my vriendin in die letterlike diep water was.

Is dit nie hoe baie van ons soms voel nie...veral in ons land?
Sê jy dalk ook vandag: "Ek het hoop verloor"
Maar onthou as ons BINNE moeg is hoef ons net te sê:
"Here help, ek kan nie meer!"

My HOOP/blydskap lê nie in die beter word van my omstandighede( in sandbanke) nie, maar in die Rots Jesus.
In die wete dat Hy saam my in elke storm is dat Hy my nooit sal verlaat want ek is uit genade Sy kind.

Dan alleen kan ek 'n "Habakuk nogtans" geloof hê, want ek swem nou vir die Rots en nie meer vir die sandbank wat tydelik en onseker is nie.

Habakuk 3
"Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,  NOGTANS SAL EK IN DIE HERE JUBEL, sal ek JUIG in God, MY REDDER.
 DIE HERE MY GOD GEE VIR MY KRAG.Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op HOË PLEKKE laat HY my VEILIG loop."

Die Here sê in Ps 27:14 ons moet bly vertrou en moed hou maar soms is ons binne net te moeg...maar dankie Here dat U ook sê dat wanneer ons swak is dan is ons sterk, want dan tree U krag in...

Ek kan juig en jubel nie omdat my omstandighede verander het nie maar omdat Hy my die krag gee om daardeur te gaan tot Sy eer!

Bou dus jou HOOP op die Rots...moenie daarvoor op sandbanke VERTROU nie....en jy sal nooit weer moed verloor nie.

 Ons kan dit net regkry as ons IN SY TEENWOORDIGHEID leef deur Woord en gebed.
Gaan na Hom vir jou raad en hulp!

'N lewe sonder probleme en storms sal ons nooit hier op aarde kry nie...maar daar is so 'n lewe, die Ewige lewe eendag by Jesus...                                          Fokus daarop en swem daarvoor.


Hy is wonderbare RAADSMAN...EWIGE GOD!
“Die Here is ons vesting wat vir altyd sal bly staan
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan!
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan
Hy is die Rots wat ewig staan” - oorwinningslied

 “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.  Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n ROTS laat staan en my weer op vaste grond laat loop.”
PSALMS 40:2‭-‬3 AFR83‬

"DIE HERE IS MY ROTS,
my SKUILPLEK en my REDDER , my God, MY ROTS, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting....
Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig....
Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered OMDAT HY MY LIEFHET.....
Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie....
Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.....
God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig.  Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan....
Die Here leef!
EK LOOF HOM WAT MY ROTS IS.
Ek prys my God wat my gered het."
PSALMS 18:3, 17-17, 20, 30-31, 33-34, 47 AFR83



In Psalm 62 praat Dawid  ook hiervan:
Die Rots is my HERE….op Hom alleen VERTROU ek

 “…Net by God vind ek RUS, want op Hom VERTROU ek.  Net Hy is my ROTS en my REDDING , my VEILIGE VESTING , sodat ek STEWIG STAAN .  God is my REDDING en my KRAG . Hy is my ROTS , my STERKTE , God is my TOEVLUG .  Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug. Sela  MENSE is VERGANKLIK , mense is niks: op 'n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks.  Moenie op GEWELD vertrou nie; ROOF sal jou niks in die sak bring nie. As jou RYKDOM toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.  Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: DAT NET GOD MAG HET EN 'n MENS NET OP U, HERE , KAN VERTROU, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.”PSALMS 62:6‭-‬13 AFR83‬‬‬‬‬‬‬‬‬

"Niemand is heilig soos die Here nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen ROTS soos onse God nie." 
I SAMUEL 2:2 AFR53

Wat in jou lewe vandag is 'n "sandbank" waarop jy sonder dat jy dit dalk ook besef vertrou of op hoop?

SWEM SELF VIR DIE ROTS, maar gaan ook onder jou naaste in en stamp/help ander tot op die Rots, enige iets anders as Jesus(die Rots) is 'n sandbank.

 En die beste van als ...
Jesus ons lewensREDDER...loop op die water !!!!!
Jesus sê kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is en Ek sal vir julle rus gee

Swem vir die ROTS, maar hoe?!

“...IN HOM gewortel (Jessus ons Rots is standvastig, vas en seker, verander nie...fokus op Hom, nie op die golwe en wind)
 En OP HOM gebou (bou jou huis op die Rots nie op die sand, doen/gehoorsaam Sy Woord),
Vas IN DIE GELOOF soos julle geleer is ( Jesus sê...kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is... leer van My),
 EN MET DANKBAARHEID vervul (vervang elke negatiewe gedagte met 'n dankbare gedagte...en lofprysing) .
KOLOSSENSE 2:7 AFR83

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my HOOP op die Here.  Maar dít sal ek ter harte neem en OM DIÉ REDE BLY EK HOOP:  deur die LIEFDE van die Here het ons NIE VERGAAN NIE ; daar is GEEN EINDE aan sy ONTFERMING nie,  dit is elke môre nuut. U TROU IS GROOT.  Ek sê vir myself: DIE HERE IS MY LEWE, DAAROM HOOP EK OP HOM.  Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra;
KLAAGLIEDERE 3:18‭, ‬21‭-‬25 AFR83‬‬‬‬‬‬‬‬‬‬‬‬‬‬

Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.  Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.
PSALMS 62:2‭-‬3 AFR83

Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed.  Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U.
BRING MY OP 'n ROTS waar ek veilig sal wees.
AMEN
PSALMS 61:2‭-‬3 AFR83

gaanvertelgotell.blogspot.com
http://gaanvertelgotell.blogspot.co.za/2018/02/moenie-vir-sandbanke-swem-nie-swem-vir.html











Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”