Met net 'n paar ure oor....


Daar is bid
en dan,
is daar DESPERAAT BID.

Is dit nie tyd dat ons die erns van ons situasie omsit in desperate gebede nie.

Baie van ons het van die ware verhaal gehoor waar drie jong seuns deur die ys geval het op ‘n meer en een seun na ongeveer twintig minute eers op die bodem gevind is en later, ongeveer ‘n uur na die ongeluk deur die dokters dood verklaar is. Maar sy moeder het in daardie oomblikke uitgeroep na die Here vir genade, en skielik het die dokter weer ‘n hartklop kon kry….

Daar is toe ‘n fliek gemaak van hierdie wonderwerk en wys tans in ons fliek teaters nl. “BREAKTHROUTH”

Aanvanklik sal mens dink wow die geloof van ‘n moeder…
Maar as jy haar storie hoor en haar leer ken deur die fliek of haar boek besef jy gou sy is glad nie spesiaal, of selfs ‘n reus in die geloof nie.
 ‘n Normale doodgewone mens wat tot die uiterste toe gevrees het vir haar kind se lewe.

Dus Nee net ‘n desperate mamma wat desperaat bid.

 Jesus het gehoor en haar kind aan haar teruggegee. Hoekom Hy party neem en ander teruggee sal ons nie nou kan verstaan nie, maar ek glo eendag sal ons verstaan, vir nou moet ons net Sy hart vertrou dat Hy nie foute maak.

Sy hart breek vir ons, Jesus het menigmaal gehuil vir die seer om Hom.

Uit ons eie lewe het ons dieselfde ervaring gehad as die mamma, desperate oomblikke, dokters wat kom sê daar word die ergste verwag, meer as een keer in haar skoene gewees… en  ja ons is ook nie spesiaal of het groot geloof gehad nie, inteendeel.

Op daardie oomblik het ek nie omgegee dat ek hard bid en wie luister nie, ek het net desperaat gebid, en gepleit by die Here. Sy wil altyd die beste dit weet ons, maar op daardie oomblik pleit jy met alles in jou.

Jy is op ‘n plek waar jy net desperaat na God kan uitroep, totaal hulpeloos.
Jy besef nie net jy nie, maar almal om jou is totaal uit beheer en totaal nie daartoe in staat om iets aan die situasie te verander. Die uitdrukkings op die mediese personeel se gesigte bevestig hulle het gedoen wat hul menslik kon, daar was niks wat hul meer kón doen…

_________________________________________________________________________________

Maar in daardie desperate oomblik voel God nader en werkliker as ooit in jou lewe. Op daardie oomblik twyfel jy nie eers een oomblik of daar ‘n God is nie, jy weet!!! En jy weet dat jy weet net Hy kan help. As niemand meer kan nie, kan Hy steeds. Jy het geen ander plek om na toe te draai as na Hom.
________________________________________________________________________________

Daar was meer as een desperate persoon in die Woord.

Ons lees van Jaïrus in Luk 8.
Hy was ‘n belangrike man in daardie tyd, maar op daardie oomblik net ‘n desperate pa…
Hy gee nie om wie vir hom kyk nie, hy val op sy knieë voor Jesus se voete neer en smeek Hom om sy enigste dogterjie te genees.
Dan oppad na sy huis stop Jesus vir ‘n vrou wat al jare aan bloedvloeiing ly…Hoe angswekkend moes elke sekonde oppad na sy huis vir Jaïrus gevoel het en dan stop Jesus nou ook nog.

Maar Jesus het geweet hier is nog ‘n vrou wat desperaat Sy hulp nodig het en gaan Hy haar nie verby nie.

Jaïrus en die vrou het een ding in gemeen gehad, hulle was alby desperaat en alby het geglo Jesus is die enigste een wat hulle kon help.

Net soos in in “BREAKTHROUGH" het die mense klaar aanvaar Jaïrus se dogter is dood, en het die tyd van dood bevestig, maar Jesus het altyd die laaste sê.

" Hy het haar hand gevat en uitgeroep: ”Dogtertjie staan op!”
 Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.”
LUKAS 8:55‭-‬56 AFR83‬

Dus was dit nie haar ouers se groot geloof wat die wonderwerk laat gebeur het nie, want dan sou hulle nie stom van verbasing gewees het nie. Hulle het wel geglo en vanuit dit desperaat gebid, maar dit was die hoorder van gebed wat die eer kry hier.

Na elke keer wat ons Jesus se ingrype ervaar het en wonderwerke beleef het was ons ook stom voor wie Hy is en kan doen.

Ons sien ook Hanna het desperaat tot God uitgeroep in haar smart
“Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.  Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”  Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.  Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”  Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. (Desperate gebed)
Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”  Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.”
1 SAMUEL 1:10‭-‬18 AFR83‬

Selfs Elia die groot profeet het desperaat tot die Here geroep vir ‘n kindjie se lewe
“en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, 'n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”  Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”  Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”
1 KONINGS 17:20‭-‬23 AFR83‬

Die Here hoor ons desperate gebede wat ons in geloof tot Hom rig
Ook in ons eie lewe kan ons meer as een keer daarvan getuig…

Met net ‘n paar ure oor tot die verkiesing, moet ons gebede nie dan net meer en meer word nie. Is dit nie tyd dat ons die erns van ons situasie omsit in desperate gebede nie.

**************************************************************************
Ipv opgee en die tyd van dood oor die situasie uitroep, steeds ten spyte van die feite desperaat uitroep tot ons God wat die onmoontlike voor moontlik is. Desperaat bly smeek en glo vir ‘n wonderwerk vir ons land.
**************************************************************************
Ophou op mense, dokters, politieke leier ens te vertrou, besef hulle kan net soveel doen en niks meer. Ophou na doem profete luister, en eerder elke vrees in gebed omsit.
Uit te roep "BUT GOD!"oor elke onmoontlike situasie.

Hoeveel Ismael kindertjies het ons al verwek. Daai eie planne omdat God se tyd te lank geword het na ons sin. Daai oomblikke wat ons sake in eie hande geneem het en self dinge wou laat gebeur het wat ons wou hê moes gebeur.

Wag op die Here anders gaan jy met hierdie "Ismaeltjies" en die probleme wat hul bybring sit. Probleme wat jy self veroorsaak het. Dan moet jy weer planne maak om daaruit te kom. Dit was nie die Here nie, Ismael was nie God se plan nie, Isak was.
Ons maak ons eie planne en dan blameer ons God as dinge nie uitwerk nie. Sy Tyd is perfek, Sy plan is ver bo wat ons kan dink of bid... VERTROU!!

Ongeduld kan jou laat eie planne maak of laat opgee

“Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom! Hou moed! Wees sterk! Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!”
Psalms 27:14 DB

Baie het al opgegee net voor die deurbraak.

Ons moet  op Jesus alleen vertrou vir hulp. As Hy talm en dit te laat lyk soos vir Jaïrus en vir Martha en Maria met Laserus se dood steeds te bly glo…

“Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”
 Jesus sê toe vir haar:
“Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”
JOHANNES 11:39‭-‬40 AFR83‬

Baie sal vir ons sê ons kan nie net glo en bid nie.
Wel hier sien ons, ons kan!
 Soms is dit al wat ons kan doen.
Nie in een van hierdie verhale kon een van hulle iets van hulle kant af doen nie.
Elkeen van hulle was by 'n punt waar hulle net kon glo en bid, desperaat bid!

Here kom ons ongeloof tegemoet, versterk ons geloof en laat ons ook U wonderbaarlike mag sien met hierdie verkiesing en daarna in ons land….
Mag die land sien dit was U en U alleen.

Gepaste gebed vir ons land

“So moet julle bid:
 Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
  Gee ons vandag ons daaglikse brood;  e
n vergeef ons ons oortredings
 soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 
en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose."
MATTEUS 6:9‭-‬13 AFR83

Amen
BUT GOD!!


Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”