COLA se storie...

 



COLA SE STORIE is ook ons storie

 Cola is ons hondjie,  sy is 'n Yorky kruising,  6 jaar oud.

 So rukkie terug toe ons vir die naweek gaan kamp het besluit sy, sy gaan ons soek. Ons vermoed met covid inperking en die werk en leer van die huis af het sy bederf geraak dat daar altyd iemand meeste van die tyd deesdae tuis is, en moes sy verbouereerd geraak het toe daar skielik niemand tuis is. 

Vir 6 jaar het sy nooit ooit uit die erf kon kom nie en het sy boonop maatjies, sy was dus nie alleen, alleen nie. 

Van ons ander woefkinders is kleiner gebou as sy en hul het nie saam met haar uitgekom nie dus was ons dronk geslaan en kon nie dink wat van haar kon geword het toe my kinders die aand na ons gery het tuis kom van die universiteit en Cola nerens te vinde is nie. 

Ek het dadelik oral haar begin soek en rondgevra. So paar ure later het sy so twee blokke van ons af by ‘n kompleks ingeloop en het iemand haar gekry en ons gekontak. Groot was die verligting vir almal want Cola is die dierbaarste liefielyf en was tot “blommewoef”(die foto) op my dogter se troue. Sy het die ringe ingebring. Alhoewel seker dat sy nie kon uitkom  deur die heining nie het ons seuns tog maar weer alles nagegaan en plek plek selfs beter toegemaak net vir ingeval.




Die volgende dag (SATERDAG) moes hulle egter die middag iewers heen en het die woefkinders almal gegroet en dubbel seker gemaak alle hekkies is dig toe voordat hul gery het. Tien minute later  bel my buurvrou ons dringend, Cola het weer uitgekom, sy was buite en wou haar roep maar Cola het net een ding in haar kop gehad en dit was om so vinnig as wat sy kon in die rigting van waar ons seuns se kar se dreuning verdwyn het te hardloop, sy moes geluister het want sien kon sy nie. Sy is dus met ‘n spoed by haar verby. Ons kinders was binne minute terug en al die bure het te voet, met fietse, en motors help soek maar Cola was nêrens.

Die kinders het op en af in die strate geloop en hard bly roep tot dit later begin donker word het en steeds was sy nie te vinde.

Ons was rasend, sy is so klein en vreesllik bang, veral vir weer en klappers, hoe gaan sy alleen buite oorleef, naby ons is dit veld en 'n groot kanaal, as sy daar verdwaal….


Ons het almal gebid. 

Toe ek later bid vra ek vir die Here dat net soos Hy na wilde diere in die veld kyk Hy asb vannaand so ook na Cola sal kyk en haar oppas. 

_____________________________________________________________________________________

Terwyl ek bid kom dié woorde by my op dat ek moet GEDULDIG BLY BID. 

______________________________________________________________________________________

Ek besef dit beteken sy gaan nie dadelik gevind word nie, maar geduldig beteken nie net aanhou bid totdat nie, maar bid met GEDULD wag op die Here met VERTROUE sonder om moed op te gee. 

Ons moenie hoop opgee dat Cola sal gekry word nie, bly bid in geloof.

Die lied "Ek gee jou my Woord" kom skielik by my op 


... Ek kry ook hierdie Woord…

“U het my van die dood gered, U het 'n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.”

PSALMS 116:8 AFR83

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

MATTEUS 5:4 AFR83

... Ek bid dat ons binnekort vir COLA kry en dat die Here ons gebede verhoor het en ons trane tot 'n einde kom

SJOE ek net nie toe besef hoe moeilik hierdie gaan wees en nog gaan word nie, ook nie hoe hierdie nog 'n groot geestelike boodskap sal word vir ons gesin nie. ‘n Belewenis wat ons Jesus se hart net soveel beter sal laat verstaan en leer ken. 

Ons het gedink ons soek net ons hondjie, maar Jesus wou vir ons soveel meer kom gee en leer. Soos wat die ure en dae sou volg so het die boodskap daarmee saam oopgebreek. So amper toevallig of sal ek sê te toevallig het die Heilige Gees die werklike gebeure met die geestelike boodskap kom inmekaarvleg.




Ons het vroeg die volgende oggend huistoe gekom en weer die hele Sondag help soek, later het iemand laat weet hulle het haar in die hoofpad deur die dorp, baie dieper die dorp in gesien hardloop.

 Dadelik soontoe en oral gery, geloop, hard geroep.

  Ek weet nie wat mense gedink het later nie. (Later sou ons besef die hondjie wat daar oral gesien is was moontlik nie Cola want sy kon onmoontlik gelyk op twee plekke wees, iewers het iemand hul misgis).

Ons het egter elke leidraad opgevolg, oral geadverteer, sy is plus minus 900x geshare op faceboek,  so baie mense het help soek.  

Ek dink na dese is daar min in ons omgewing wat nie vir Cola ken nie. 

Soms wil die vyand ons kom oortuig dat mense nie meer vir mekaar omgee nie, wel met Cola se soektog het die Here my kom wys hoeveel mense nog vir mekaar omgee en hoe baie ons mekaar nodig het. Ek het later die Here geloof vir hierdie openbaring, gedink dat as dit is wat ek uit Cola se soektog moes ervaar was dit al kosbaar. 

Ek moet sê, was dit nie vir elkeen se bydrae nie het ons haar nooit gekry nie. Ons is bevoorreg om in ‘n omgewing, dorp te bly met sulke kosbare mense. Mense wat nie net saam gesoek het nie, maar moed ingepraat het (ook vreemdes het my gekontak en omgegee) en meeste van alles saam gebid het.

 Mense het vir dae rond gaan ry en help soek, party het lank nadat hul, hul kinders by die skool gaan aflaai het en lank voordat hulle hul weer moes gaan oplaai eers weer gaan oral rondry.

 MAANDAG het ons laaste leidraad gekry dat sy by iemand onder hul Wendy was paar blokke van ons af maar hul kon haar nie uitkry en toe later toe hul weer kyk was sy weg. Ons wou huil. 

Kosbare vriendinne het, terwyl ek moes gaan werk, gereel vir plakate druk, en advertensie in koerant plaas wat die Donderdag sou verskyn ens.

Teen die tyd het ons ook ‘n beloning belowe aan die persoon wat haar aan ons sou terug besorg. Oral het ons (my skoonma het selotape gesknip en ek het geplak) vir ure plakate gaan opsit oral in die dorp...ons het selfs gebid vir wysheid waar om flyers op te sit

Party plekke minder veilig as ander maar die Here het sy hand ook daar oor ons gehou. Ons sou enige iets doen om haar te vind!!

Ons het soveel moontlike situasies aan gedink. Iemand kon haar opgetel het toe hul Sondag deur ons dorp gery het na die naweek. Cola kon nou enige plek wees teen die tyd. Iemand kon haar vir hullle gevat het of hul kon haar gaan verkoop het. Sy kon verdwaal het of in die kanaal beland het, selfs deur 'n kar raakgery word.


Ek besef die HERE BLY IN BEHEER Hy kan in die verborgene sien, niemand kan vir Hom iets wegsteek...Hy weet waar Cola is



Ek moes hierdie vir Jesus gee en Hom ten volle vertrou vir te toevallig om toeval te wees  in elke situasie.

Ons was gedaan gesoek teen Woensdagaand (dag 4). 

Toe ek weer tuis kom sê die Here vir my in my hart:  

"Verstaan jy nou hoekom Ek 99 skapies los en daardie EEN gaan soek?

 Net soos jy jou ander woefkinders tuis los en aanmekaar straat op en straat af soek en almal oral vra om te help soek. Alhoewel jy lief is vir al jou woefkinders want elke een van hulle is uniek en spesiaal met sy eie geaardheid, gewoontes en plekkie is daardie een watter een dit ookal sou wees se plek leeg in ons huis en in ons harte. "




Oral hoor ons getuienisse van mense wie se Yorky heining geklim het, dis bleikbaar hul manier. Dis wat met  Cola moes gebeur het. Sy moes so "gepanic" het dat sy begin heining klim het die eerste keer en toe sy dit regkry toe herhaal sy dit die tweede keer weer. 

"Ai Cola om op jou oudag te wil begin heining klim, wat het jou besiel?" Huil my hart.

 My hart wou breek as ek dink wat dalk alles met haar gebeur het of kon gebeur, sjoe hoeveel te meer moet Jesus se hart breek oor een van Sy kinders wat afdwaal.

Here ek verstaan beter maar ek besef ek het en sal nooit regtig ten volle kan weet hoe U oor elkeen van ons voel nie. U liefde is onvoorwaardelik, onverdiend en ewig.

Donderdag het gekom en gegaan, ek wou begin moed opgee, maar nes ek dit wil doen dan gebeur daar iets of iemand laat weet ek  moet nie moed opgee nie want die hele gemeenskap soek saam en bid saam, dan weet ek, ek moet aanhou. 

Vrydag die sesde dag. "Here my oë is moeg gekyk, my lyf is seer gesoek en daar is vir dae geen nuus meer."



Ek besluit om vir oulaas weer by die veldjie te gaan soek. Iemand het my die idee gegee om ‘n "squeaky toy" te loop en druk langs die veldjie, dalk hoor sy dit en kom. Cola haat daai geluid, maar dis al waaraan ek nog kan dink om te probeer. Ek besluit om sommer twee te gaan koop gou voor die kinders tuis kom vannaf die universiteit die middag. Ai hulle harte is seer so gehoop dat sy al gekry is voordat hul tuis kom. 

Ek het eers later vir myself lag gekry toe ek terugdink hoe dit moes gelyk het…ek wat die winkel inhardloop, haastig al wat ‘n speelding druk, want sien ek moet die een kry wat die hardste raas. Watse lawaai ek moes gemaak het, het my eers later getref, ai al waarop ek op kon fokus was om Cola te kry. So askuus as jy dalk in die winkel was op daardie oomblik vir die lawaai, dit was die rede. Simpel voel kom soms te laat.

Gelukkig het die huise teen die veldjie teen die tyd al geweet ons soek vir Cola en het al saam gesoek en het die geraas met die speelding hul darem nie te veel gepla. Ek het self toe al gaan probeer, maar ai te vergeefs steeds geen Cola. Ek ry toe weer tot by die huis met die wendy, vra weer,  om al die inligting van seker te maak en toe ek daar ry sien ek iemand ‘n jong dogter aflaai. Ek en my skoonma stop ook by hulle om te vra? 

Ja sê die dogter sy het haar sien weghardloop vir mense wat haar Donderdagmiddag probeer vang het. Sy wys in watter rigting sy gehadloop het….dis in ons huis se rigting deur ‘n veldjie. Weer gaan loop ek en roep ook in die veldjie, al wat bure is kom uit en gee raad en belowe om te laat weet. Ai ek waardeer elke een. 

Ek het weer moed, dit beteken Cola hardloop nog rond sy is nog hier iewers, hoe dit moontlik is, is menslik onverklaarbaar, maar ek weet Jesus se hand was oor haar. Ons het gebid daarvooe.

Waar teen Hy haar als moes beskerm het sal ons seker nooit kan weet.




Met leë hande gaan ons toe maar weer huistoe. Klein rukkie later stop die kinders vannaf Potch voor die hek, veilig tuis, dankie Jesus. Maar ipv inkom druk hul die hooter. Ek gaan uit maar hulle praat en beduie dat ons gou moet kom iemand het hul gebel en gesê hul het haar moontlik bekry. Die oggend het ek ook so ‘n oproep gekry van anderkant die dorp, maar toe ek daar aankom was dit nie Cola. Cola is bruin en swart, die hondjie was wit en swart. 

Dus was ek versigtig opgewonde en het ons vinnig probeer karre ruil, my een seun en sy meisie spring in haar kar en net toe kom pa van die werk af om die draai, ons beduie sommer vir hom hy moet oopsluit dat van ons by hom kan inklim. Daar word nie tyd verspeel nie, netnou hardloop sy WEER weg. Met twee karre trek ons daar weg want as ons dalk in verskillende rigtings moet ry, is ons gereed, as sy dalk weer die pad gevat het. 

KONSTERNASIE met HOOFLETTERS

Ons harte juig!!

Die oproep was van iemand wat 'n paar blokke van ons af in ‘n ander kompleks bly as die vorige een ook heelwat verder en in 'n ander rigting.

 Toe ons by haar stop kom sy met Cola in haar arms uitgestap uit haar huis, maar toe loop die trane van blydskap. Ek voel of ek droom, kan dit waar wees, na 6 dae veilig in ons arms. 

My seun vat haar by my want eintlik is Cola amptelik syne, maar in ons huis is almal lief vir almal, en is almal ook maar almal sin die dat almal saam gesoek, huil en gebid het.

Ek voel simpel oor die trane wat loop, maar ek weet sy verstaan. Die beloning word afgehandel en ons kon huistoe gaan met Cola in ons arms. 

Die Here sê vir my op daai oomblik in my hart die vreugde wat julle nou voel kom nie naby hoe Ek voel as een sondaar hom of haar bekeer en Ek hulle vind nie. 



By die huis kry Cola natuurlik alles wat lekker is, sy lek haar seervoetjies heeltyd en is vreeslik honger en dors. Sy is later so moeg sy kan haar ogies nie kan oophou meer nie maar sy is te bang om te slaap. Ek hou haar later soos ‘n baba in my arms en sus haar aan die slaap en sit vir meer as halfuur so met haar dat sy net bietjie kon slaap. 

Die Here vra toe vir my terwyl ek met haar so sit of ek kwaad voel vir haar en haar verwyt vir wat sy my deurgesit het en ek dink glad nie, ek is net so so bly en dankbaar sy is veilig tuis. Hy wys my daarop so ook het die Vader van die verhaal van die verlore seun nie die verlore seun verwyt nie, maar met oop arms tegemoet gehardloop.

Later kry sy lekker vleisie uit ons borde, sy het baie gewig verloor, sy was nie meer ons potvarkie nie,  en my een seun lag en sê hy sien hoe werk dit, die soet woefkinders tuis kry nie nou maar die een wat weggeloop het word lekker ekstra bederf. 

Toe besef ek nes met die verlore seun het ons die vetgemaakte kalf vir Cola geslag en haar gebad en versorg en vasgehou en getroos. Ons hele gesin was daar om saam fees te vier vannaand.

 Cola is gekry, Cola is weer tuis.


COLA SE SOEKTOG EN VIND het weer vir ons kom wys:

By Jesus is niks onmoontlik 

Waarvoor ons gebid het, het gebeur!

 6 DAE LANK het Hy na haar gekyk.


Saterdagogged(een week nadat sy weggeraak het) word ek wakker met weer dié lied " ek gee jou My Woord" in my gedagtes en ek onthou ook die boodskap wat ek vir myself na my tablet gewatsapp het toe dit donker word die eerste aand en sy nog nie gekry is.


Die woorde BID MET GEDULD ... dat ons nie moet ophou bid as ons haar nie dadelik kry nie.


Elke dag as ek wou moed verloor het die Here my aan hierdie herinner. 

Dus toe ek die oggend wakker word weer met hierdie woorde in my gedagtes het ek net kon sê wow Here U gee ons U Woord, hoe betroubaar is U...en so so dankie dat ons U ook altyd kan vra en dat U hoor en antwoord nie soos ons wil nie maar U wil. U gee vir ons om, U liefde strek tot in die kleinste detail van ons lewe wat tot ons hondjie insluit. 

Ek besef dat alles tengoede gebeur het.

As Cola nie so lank weg was nie, was sy nie so wyd geshare nie. Nou kan soveel meer Sy almag aanskou en Hom loof en prys vir Sy beskerming en gebedsverhoring. 


As die Here Daniel voor die leeukuil gered het, het net hy en miskien sy paar vriende daarvan geweet, maar in die leeukuil het die hele land God se grootheid van gehoor en daarvan geweet en God verheerlik.

Die eerste aand wat Cola weg was, het net ‘n paar van ons geweet daarvan en dat sy gekry is, maar die tweede keer was sy oral bekend en die wonderwerk wat ons uit die Here se hand ontvang het op almal se lippe en oor die hele faceboek.

Saterdag kon ons posters gaan afhaal met soveel dankbaarheid dat ons harte dit wil uitjubel Hoe groot is ons Here vir genade so onverdiend.





Sondag in die diens wys die Here my daarop dat ons baie soos Cola is. Ons is veilig binne God se wil, agter die heinings van Sy gebooie wat ons veilig hou en sorg Hy vir ons behoeftes en veiligheid.

 Maar dan op ‘n dag kom die vyand en gebruik vrees om ons te laat heining klim. Cola het die eerste keer gedryf deur vrees heining geklim. Die tweede keer het sy moontlik gedink wel ek het hul die eerste keer gekry en was dit nie so erg ek gaan hul maar net gou weer soek. (Eie planne)



 So verlei die vyand ons ook soms om heining te klim en gaan ons te ver en verdwaal. Daar buite God se wil(heining) bevind ons, ons in gevaar op straat. Cola kon by kwaai groot honde se erf ingegaan het en verskeur geword het. So kan ons ook deur die brullende leeu verskeur word, want die uiteinde van die sonde is die dood sê die Woord. 

Moet dus nie heining klim nie, jy weet nie wat daar buite vir jou wag nie. 

Die Here wys my ook net soos ons gemeenskap gehelp soek het na Cola, so help ons Hom soek as ons evangeliseer. Dit het my weer laat besef dat ons soektog na verlore siele geen geringe saak is nie, nie vir die persoon nie, maar ook nie vir die Here nie. 

As ons so erg na ‘n woefkind kon soek hoeveel te meer moet ons nie omsien na mekaar en mekaar se kinders. Kyk uit vir hulle wat verdwaal het, wat in gevaar verkeer, bid vir hulle, vermaan hulle, bemoedig hulle, versorg hulle en lei hul terug na ons Vader se huis daar waar Hy hul sal verbind, genees, versorg en fees vier

Sommige het kommentaar gelewer oor hoe erg ons gesoek het, wel ek kan getuig dat ook ons vriende en gemeenskap netso erg gesoek het, dit het my laat besef hoe belangrik dit is wie jou vriende is en waar jy jou vestig. Dis hulle wat gaan intree en saam jou gaan letterlik en figguurlik help soek na jou geliefdes as hulle weggeraak het en verdwaal het op hul lewensreis. Dis hulle wat saam jou gaan bid en huil.

Hoeveel op jou foon kan jy vandag bel en vra bid saam my en weet hul sal regtig? Hoe lyk jou kring waarin jy jou bevind? Almal is daar as dit met jou goed gaan, maar wie is daar as dit met jou sleg gaan? Dis dan wanneer jy dankbaar is vir hulle wat saam met jou huil, bid en soek.

Ek sê weer ons bly in 'n ongelooflike geloofs gemeenskap. Soms wil die vyand ons van die teendeel kom oortuig, maar soveel kan saam getuig en het dit al beleef hoe ons gemeenskap intree en saamstaan as iemand deur diep water gaan.



"Party was verdwaal in die woestyn, in 'n barre wêreld, en kon die pad na 'n bewoonde stad nie kry nie. Hulle was honger en dors, hulle was uitgeput, maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered uit hulle ellende. Hy het hulle op die regte pad gebring en by 'n bewoonde stad laat uitkom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen."

PSALMS 107:4‭-‬8 AFR83

Ook vir honde kinders...

COLA se storie is ‘n GETUIENIS van soek en vind maar nie sonder gebedsverhoring en te toeval om toeval te wees wonderwerke nie.




Reckless Love

Song by Cory Asbury


… Before I spoke a word, You were singing over me

You have been so, so good to me

Before I took a breath, You breathed Your life in me

You have been so so kind to me

… Oh, the overwhelming, never-ending, reckless love of God

Oh, it chases me down, fights 'til I'm found, leaves the 99

And I couldn't earn it

I don't deserve it, still You give yourself away

Oh, the overwhelming, never-ending, reckless love of God

… When I was Your foe, still Your love fought for me

You have been so, so good to me

When I felt no worth, You paid it all for me

You have been so, so kind to me

… Oh, the overwhelming, never-ending reckless love of God

Oh, it chases me down, fights 'til I'm found, leaves the 99

And I couldn't earn it

I don't deserve it, still You give yourself away

Oh, the overwhelming, never-ending reckless love of God

… There's no shadow You won't light up

Mountain You won't climb up

Coming after me

There's no wall You won't kick down

Lie You won't tear down

Coming after me

… There's no shadow You won't light up

Mountain You won't climb up

Coming after me

There's no wall You won't kick down

Lie You won't tear down

Coming after me

… There's no shadow You won't light up

Mountain You won't climb up

Coming after me

There's no wall You won't kick down

Lie You won't tear down

Coming after me

… Oh, the overwhelming, never-ending reckless love of God

Oh, it chases me down, fights 'til I'm found, leaves the 99

I couldn't earn it, I don't deserve it, still You give yourself away

Oh, the overwhelming, never-ending reckless 

love of God



Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”