Ou verbond en Nuwe verbond hardloop aflos.
Ou verbond en Nuwe verbond hardloop aflos.
Daar is die Ou verbond en die Nuwe verbond in die Bybel.
Die probleem kom as ons dit afsonderlik lees en nie die Woord as 'n geheel lees nie.
Sonde was nie God se skuld nie, maar die mens wat geval het vir Satan se plan
Tot vandag nog probeer hy dat ons in God se goedheid en plan moet twyfel.
Mense kan dink dat God se ou verbond, die "OU PLAN" dus om mense die ewige lewe te gee en te red nie gewerk het nie en daarom moes Hy toe 'n "NUWE PLAN" maak en die nuwe verbond instel, wat deels waar is, maar Hy het van die begin af geweet dit gaan gebeur en was die Nuwe verbond van die begin af deel van Sy plan van redding.
Nee Hy die Almagtige maak nie foute nie, en ja Sy eerste plan het volgens ons "nie gewerk" as jy dit afsonderlik beskou en dink dit was sy uitsluitlike doel daarmee nie. Maar dit was ook nooit bedoel om alleen te staan nie. Reeds in Genesis in die Paradys verwys God na die Verlosser wat sal kom, na die nuwe verbond.
"En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt."
GÉNESIS 3:15 AFR53 en so vind ons oral in die ou testament heenwyse na Jesus die Messias.
Ook in God se belofte aan Abraham sien ons dat God se oorspronklike plan nie net Israel ingesluit het nie, nee Sy genade is vir ALMAL
"....... (Abram) In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”
GENESIS 12:3 AFR83
Dus was ALBY deel van Sy plan(span).
Soos die geval met 'n aflosspan. Dis nie net een atleet wat alleen gaan hardloop nie, nee die volgende een staan reeds op die bepaalde plek gereed om oor te vat. Die ou en die nuwe verbond staan nie apart van mekaar nie en staan ook nie teen oormekaar nie, maar is wel SAAM deel van God se oorspronklike reddingsplan.
"Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."
II TIMÓTHEÜS 3:16-17 AFR53
As ons dus die Woord deels lees of byvoeg kan ons weg beweeg van die waarheid...
Wat my gevoel pas of nie, of wettiese eie pogings om dit te verdien. Bly by God se waarheid. Hy het klaar gepraat in Sy Woord. Enige iets wat meer of minder sê en nie daarmee saamstem moet ons wegwerp anders sal ons verwar word.
As ons nie die Woord vir onsself lees nie, beweeg ons op baie gevaarlike terein. Soms dink ek mense weet net van die Woord deur hoorsê, maar het dit nog bitter min SELF gelees. Ek was vir baie jare self hieraan skuldig. Ek het by die Here gekla dat "hulle" my verkeerd geleer het waarop Sy antwoord aan my was of ek 'n Bybbel gehad het?
( Ja natuurlik).
Nou Hoekom het jy nie self gelees nie?
As jy nie staan vir iets nie, kan jy val vir enige iets. Baie bou hul geloof op aannames, interpretasie terwyl ons dit op die absolute waarheid alleen moet bou.
"In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak."
HEBREËRS 1:1-2 AFR83
Die Seun Jesus is die Woord (Joh 1)
Vandag het ons die Woord amper in elke taal op aarde. Sodat ons self by die Seun kan leer. Self die Woord kan lees. Dis Genade!
Ons kan dus nie net die ou verbond of net die nuwe verbond aanhang nie. Nee die ou verbond gee die mens die "aflostokkie" oor aan die nuwe verbond om klaar te maak wat die eerste nie kon.
Jesus sê aan die kruis "dit is volbring".
Die ou verbond het sy deel gedoen, hy hardloop nie steeds saam tot by wenpaal(volbring) nie. Ou verbond bring (aflostokkie) die persoon met sonde besef net tot by nuwe verbond en gee oor aan nuwe verbond van genade.
Nuwe verbond hardloop met die "stokkie" verder tot by Volbring.
Die 2 atlete is totaal verskillende mense wat die aflosstokkie moet oorgee tot by die wenpaal. Party spring weg, ander hardloop wenpaal toe. Hulle gee nie die ou atleet gou nuwe skoene of hemp en laat hom dan verder hardloop nie. Nee hy gee oor en gaan sit dan. Netso is die 2 verbonde ook nie dieselfde, maar elkeen met sy eie vermoëë en taak.
DIS 'N OORGAAN VAN OU VERBOND NA NUWE VERBOND.
Die stokkie is oorgegee...
MOENIE WEER TERUG HARDLOOP NIE, HARDLOOP WENPAAL TOE.
Nuwe verbond, nuwe sakramente, nuwe Hoërpriester...beskikbaar vir ALMAL
Wat was dan die doel van die ou verbond (wetsonderhouding) as dit nie alleen bedoel was om Israel God se volk te red nie en vir Hom af te sonder nie, en hul dus tot by die wenpaal te kry nie?
Die wet is die spieël waarin ons kyk en onsself sien vir wie ons regtig is.
"deur die wet leer 'n mens wat sonde is."
ROMEINE 3:19-20 AFR83
Die ou verbond met die wet was eers nodig SODAT die mens eers vir homself kon sien hoe hy of sy voor God lyk en dit bewys ook dan aan ons dat ons met al ons probeer dit nie op ons eie kon regkry om hemel toe te kan gaan nie en dat ons ‘n Verlosser nodig het.
Tot vandag toe is dit die rol van die wet.
Dit was nie bedoel om ons op sy eie te red nie, want God het geweet ons gaan dit nie regkry nie, maar om ons bewus te maak van ons sonde en ons te laat heenkyk en uitroep tot ons Verlosser Jesus SODAT ons deur Hom gered kan word.
Sommige probeer deur godsdienstige vroomheid dit verdien. Hoe beter ek dit "regkry" hoe beter voel ek oor myself. Vergelyk dan ook met ander om self beter te voel
God se standaard is volmaaktheid en is net te hoog.
"Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is."
MATTHÉÜS 5:48 AFR53
Eers as die mens die ewige lewe probeer VERDIEN deur VOLMAAK te probeer wees kom ons tot die besef, dis onmoontlik.
"Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is."
ROMEINE 3:19-20 AFR83
Die ewige lewe is nie vir GOEIE MENSE wat dit beter regkry as ander nie, maar vir GEREDDE MENSE, wat God deur genade alleen deur Sy seun vrygespreek het.
Jacobus sê dat die Bybel (en die wet) soos 'n spieël is en die hele idee van die spieël is dat ek daarin na myself sal kyk, myself werklik sal sien soos ek is.
Wanneer laas het jy in diè Spieël gekyk, nie om ander se foute te sien nie, maar vir jouself?
WAT SIEN JY AS JY IN GOD SE SPIEEL KYK VANDAG?
"Julle moet DOEN wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n SPIEËL kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het."
JAKOBUS 1:22-24 AFR83
As ons die boek Romeine lees sien ons Paulus het ook hierdie aanslag gebruik om mense tot die regte insig te bring. In die begin van Romeine spel hy dit vir ons uit hoe groot ons sonde en elende is en bring ons tot die besef dat ons verlore is. Ons kom deeglik tot die besef ons is nie net goed nie.
"Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie."
ROMEINE 3:10-12 AFR83
"Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,..."
ROMEINE 3:23 AFR83
En as ons hier sou ophou lees, sou ons dink ons gaan of harder moet probeer (dit probeer VERDIEN) of OPGEE want daar is in elk geval nie hoop.
MAAR as ons die hele boek Romeine in 'n geheel lees dan kom ons tot die besef dat Paulus SONDEBESEF gebruik om ons (Jood en nie Jood) tot besef te bring van ons VERLORENHEID en dat ons 'n Verlosser nodig het. Jesus is ons enigste HOOP.
Satan laat ons ophou lees en hou ons gebind met halwe waarhede, want ja ons is so sondig en verdien dit nie om God se kind genoem te word nie, maar dankie tog dat God 'n komma sit waar Satan 'n punt gesit het....
Komma...daarom het Hy “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat ELKEEN wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
JOHANNES 3:16-17 NLV
_______________________________________________________________________________
Dis asof hy verder in Romeine vir ons wil sê:
"Sien julle nou hoekom julle 'n Verlosser nodig het, hoekom God die Vader Sy enigste Seun in ons plek moes kom gee het?"
DIT BRING ONS ELK VIR HOMSELF of HAARSELF UIT BY SONDE BESEF (ou verbond) EN DAN BY GENADEBESEF(nuwe verbond).
En dit laat ons God se liefde vir ons besef, wat dan selfs nóg meer ons verstand te bowe gaan.
_______________________________________________________________________________
Dieselfde gebeur as ons net die ou verbond lees asof dit die enigste deel van God se plan was...
Ons val vas in SONDEBESEF, en probeer elke dag net harder en harder en party gee selfs op om te probeer.
As SONDEBESEF nie oorgaan in GENADE BESEF nie hou die vyand ons vas in 'n halwe waarheid...maar dis nodig dat dit by sondebesef begin, moet net nie daar eindig nie.
Die oue het wel heengewys na die nuwe, maar die nuwe is nie die oue met net ‘n paar verbeterings nie. Twee heeltemal verskillende verbonde met heeltemal verskillende eienskappe en doel, maar weereens dit staan ook nie los van mekaar nie...
_________________________________________________________________________________
SAAM, GOD SE VOLLE PLAN
Net Ou verbond
- verdiensgodsdiens
- MOET gehoorsaam
Net nuwe verbond
- maak sonde onbelangrik tot nie baie belangrik en die duur prys wat Jesus betaal het goedkoop.
- Omdat sonde afgewater word, dankbaarheid min en die gehoorsaamheid nie 'n so groot prioriteit
(Alby alleen op sy eie HALWE WAARHEID)
Ou en nuwe verbond SAAM
- Vader kind VERHOUDING,
- Ware SONDEBESEF ,
- Ware SONDEBEROU
- Ware BEKERING
- WEDERGEBOORTE
- GENADEBESEF,
- Besef van God se liefde vir ons wat oorgaan in
dankbaarheidslewe van WIL gehoorsaamheid
"Hef ons dan deur die geloof die wet op?
Beslis nie.
Ons laat die wet juis tot sy reg kom."
ROMEINE 3:31 AFR83
Genade gee nie 'n lissensie om te mag sondig nie, dit verander 'n klip hart na 'n hart van vlees wat nie meer WIL sondig nie.
_________________________________________________________________________________
SAAM!! - DIE EEN NIE SONDER DIE ANDER EEN NIE
God gee vir ons ‘n NUWE verbond nà die Ou verbond.
Hy gooi nie Nuwe wyn in ou sakke nie, Hy maak alles NUUT, ook die persoon.
As iets dus nuut is, is dit nie maar net ‘n verbetering op die oue nie.
Nee die oue het ‘n doel gehad daar was nie fout daarmee nie maar het sy doel uitgedien en is VERBY.
Die nuwe is iets heeltemal anders.
Die ou verbond was op WETSONDERHOUDING gebasseer,
maar die nuwe op GENADE.
SAAM is dit die VOLLE PLAN van God
"Maar NOU het die vryspraak deur God (die Nuwe verbond) waarvan die wet en die profete (ou verbond) getuig(na heenwys), in werking getree.
Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan ALMAL wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, SONDER dat hulle dit VERDIEN, op grond van sy GENADE vrygespreek vanweë die VERLOSSING deur JESUS CHRISTUS.
Hom het God gegee as OFFER wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. (waarvan die offer van die lammetjies in ou testament na heengewys het)
Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die SONDES wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, VERGEWE. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy ELKEEN VRYSPREEK WAT IN JESUS GLO (GOD se volle plan glo). Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie."
ROMEINE 3:21-28 AFR83
DIE NUWE VERBOND BIED DAARDIE HULP, VERLOSSING AAN ELKEEN WAT GLO IN JESUS DIE SEUN VAN GOD
Elke gelowige begin steeds by die ou verbond van die wet wat ons sonde aan ons openbaar, ons kom tot die gevolgtrekking ons is nie net goed nie en besef ons verlorenheid, en ons besef dat ons hulp nodig het, iemand nodig het wat ons kan kom verlos, en dit maak dat ons OPREG in opregte berou uitroep: "Here help, verlos my en vergewe my."
As iemand net sou weet dis die regte ding om te doen om die “sondaarsgebed" te bid en dus dààr begin en nie by sondebesef nie, is die moontlikheid groot dat hy nie werklik besef hoe groot sy eie elende en skuld is nie en dus nie werklik besef dat hy ‘n Verlosser nodig het nie.
Om die gebed te bid sonder sonde berou, is lippetaal en baat jou niks.
Op so ‘n handeling volg ook nie genade besef nie en ook nie vrug wat uit 'n dankbaarheidslewe vloei nie.
Die Farriseer en die Tollenaar is vir ons as voorbeeld hiervan gegee:
"Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:
“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ (sonder sondebesef)
“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ (Opregte sondebesef)
“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
LUKAS 18:9-14 AFR83
God kyk veral na jou hart en nie net na jou lippe nie ...
Maria en Sagaria word deur die engel besoek, alby kry nuus van 'n onmoontlike swangerskap en seuns wat hul sou hê.
Alby reageer met hoe is so iets moontlik en staaf dan met hul menslike redes.
Vir Maria sien ons, die engel sien in haar hart sy glo alhoewel sy nie weet hoe dit sal gebeur, maar die engel sien ook dat Sagaria, ook nie weet hoe, maar daar is ongeloof in sy hart oor die situasie en hy word stom.
"Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”
LUKAS 1:20 AFR83
_________________________________________________________________________
ALS DIESELFDE, NET DIT WAT DIEP IN DIE HARTE WAS VERSKIL
En dit is waar God kyk, en wat vir Hom saak maak.
__________________________________________________________________________
Ek en jy kan nie wedergeboorte self verkry nie, dis iets wat net God kan gee.
Wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n sondaar sy sonde en verlorenheid voor God BESEF en uitroep uit ‘n opregte eerlike rou hart:
“Here wees my sondaar genadig"
Op opregte berou oor sonde volg opregte bekering daarvan, dis ‘n 180grade wegdraai van die sonde en Jesus te erken en aan te neem as my Verlosser. Op so ‘n gebed skenk God Wedergeboorte en volg die vrug van die bekering. Die Here het gesê ons sal die valses aan hul VRUGTE ken, MAAR weet ons ook die opregtes en ware kinders van God sal aan hul vrugte geken word.
"Maar nou het Jesus 'n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van 'n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie. Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak (die nuwe is dus nie die oue met net paar wysigings nie) het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het NIE MY VERBOND GEHOU NIE, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.(VERHOUDING) Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy MOET die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. (Sy kinders sal Hom WIL ken) Oor hulle ongeregtighede sal Ek GENADIG wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en UITGEDIEN raak, sal gou verdwyn." (OU VERBOND SE DOEL IS UITGEDIEN)
HEBREËRS 8:6-13 AFR83
Wat beteken die Nuwe verbond nou vir ons
Ou verbond moes die volk deur die priester na God gaan
Met Jesus se Kruisiging het die voorhangsel geskeur van die tempel en het ons nou self direkte toegang deur Jesus tot ons Vader
Uit 'n getuienis van 'n vriendin van my se familie vertel die mamma dat sy uit haar hart uit gesmeek en gehuil het by die Here vir haar dogtertertjie se lewe wat in die swembad geval het en Jesus haar daarop wys terwyl sy so pleit en smeek dat Hy elke dag presies so voel soos sy nou voel oor Sy kinders en elke dag so vir ons so pleit voor ons Vader. ( Terloops hulle het 'n groot wonderwerk ontvang en makeer sy niks, aan God alleen die eer)
“Maar nou het Jesus 'n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van 'n BETER VERBOND wat op uitnemender beloftes gegrond is. As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie.”
HEBREËRS 8:6-7 AFR83
Ek en jy het ‘n Advokaat met ‘n hoofletter
Sy dienste kos óns niks maar het Hóm alles gekos
Jesus pleit self vir ons. Hy is ons Priester vir ewig.(Hebr 7:21)
Die Priester se werk was om in die Allerheiligste van die tempel op aarde in te gaan en dan eers vir sy eie sonde en dan vir die volk sin vir vergifnis voor God te pleit.
“maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:
“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ” So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword. Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: HY LEWE VIR ALTYD OM VIR HULLE BY GOD IN TE TREE.
Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.”
HEBREËRS 7:21-28 AFR83
“Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel SELF INGEGAAN OM NOU TERWILLE VAN ONS VOOR GOD TE VERSKYN”
HEBREËRS 9:24 AFR83
Vir baie is Jesus soos 'n bus wat jou hemel toe sal vat. Hul weet van die bus, glo selfs aan die bus, en sal selfs vir ander vertel van hierdie bus. Maar as jy nie vir jouself Jesus se bloedgekoopte kaartjie al aanvaar het nie, is jy nie IN die bus nie en as Jesus kom gaan jy agter bly.
"Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem. Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.
JAKOBUS 2:19-24 AFR83
Dade wat begin by opregte berou, vergifnis vra, omdraai weg van my sonde, aanvaar God se plan van redding en neem Sy Seun aan as my Verlosser, Sy bloedgekoopte kaartjie vir myself te neem nie net vir ander daarvan te vertel nie, dra van vrug wat by die bekering pa uit 'n dankbaarheidslewe ens.
"Iemand wat aan Christus behoort, is 'n NUWE mens. Die OUE IS VERBY, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die VERSOENING toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.
Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees."
2 KORINTIËRS 5:17-21 AFR83
Ons begin by ou verbond(sondebesef - ou mens), maar Beweeg aan na die beter nuwe verbond(redding deur Jesus - nuwe mens - saam Jesus, Jesus in my deur my)
Alle ander gelowe MOET allerhande goed doen om die ewige lewe te VERDIEN, ons ontvang dit uit GENADE, Jesus het die prys vir ons betaal.
Laat ons eerlik wees...
Kan enige iets anders as ons Vader se plan werk?
Na Jesus aan die kruis uitgeroep het "Dit is volbring"
het God eens en vir altyd 'n PUNT gesit.
Moenie dat Satan ooit weer daar vir jou 'n KOMMA sit nie.
Jesus PUNT!!
nie Jesus (KOMMA)plus nie.
Comments
Post a Comment