Onthou my asb as ek dalk vergeet


Kom ons hou mekaar se arms op

Jesus het ons lief met 'n onbegryplike liefde want ons verdien niks daarvan. Hy gee vir ons onsettend om, selfs die hare op ons kop is getel. Niks wat ons aangaan is Hy nie van bewus nie.

Ons is by dag 6 van "lockdown" vir die Carona virus in Suid -Afrika en is dit vir my kosbaar hoe ons as medegelowiges van ons Here Jesus Christus mekaar in hierdie tyd dra en bemoedig.

As ek die boodskappe so lees sien ek hoe die Here vir elkeen van ons individueel omgee en  boodskappe(Woord) in ons stilte tyd gee wat ons persoonlik deurdra in ons persoonlike omstandighede, maar daar is ook soveel boodskappe wat hande vat en te toeval is dat al God se kinders dieselfde by die Here hoor.
_______________________________________________________________________________
Dit bevestig vir my ons is nie alleen, Hy is by ons.

Dit maak my opgewonde en diep dankbaar vir 'n Vaderhart wat tot ons nader wanneer ons in groot nood en benoudheid tot Hom nader.
________________________________________________________________________________

Ek wil almal aanmoedig om juis nou Woord wat jul by die Here kry met mekaar te deel, so BOU ons mekaar se geloof en BEMOEDIG ons mekaar in hierdie onseker tyd waar niemand van ons weet wat in die toekoms voorlê nie, veral in die tyd wat ons nie kan saamkom nie.
Daardie Woord wat eers self met jou eie hart gepraat het en jy self eers voor die knie moes buig, en dus is dit nie Woord sommer links en regs uit deel sommer net nie, maar kragtige Woord wat soos 'n swaard die vyand se vestings afbreek.

Ek dank die Here soveel keer vir die kosbare mense in ons lewe wat Hom dien met hul hele hart. Mensies na wie ons enige tyd kan draai en vra vir saambid as ons voete gly of as ons deur donker valleie gaan. Dis in sulke tye wat mens verstaan hoekom die Here gesê het ons moet die samekomste van die gelowiges nie agterweë laat nie, veral nie in die laastedae nie.

"Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar AAN TE SPOOR tot liefde en goeie dade
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom."
HEBREËRS 10:23‭-‬25 AFR83

Op hierdie manier kom ons tog nog saam, net nie fissies nie.

Ons hou mekaar se arms op in die geestelike oorlog wat ons in stry soos Aäron hul Moses se arms moes hoog hou in die geveg teen die Amalikiete

"...het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manskappe en gaan veg môre teen die Amalekiete. Dan sal ek op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God my gegee het, in my hand.”  Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim. Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan."
EKSODUS 17:9‭-‬13 AFR83



Gister het ek hierdie kosbare boodskap oor Psalm 77 hier bo by my niggie ontvang...

"Vir die koorleier.
 Ter herinnering. Van Asaf. 'n Psalm.
  Ek roep na God om hulp, 
ek roep na God, want Hy sal my hoor. 
 In my nood soek ek hulp by die Here; 
ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie.  
Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae. Sela  
U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos. 
 Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede.  
As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af:  
“Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie?  

Het daar vir altyd 'n einde gekom aan sy trou? 
Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? 
 Het God vergeet om medelye te hê? 
Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?” Sela 

 En ek sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”
  Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.
  Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins.  
Alles wat U doen, is heilig, o God.
 Waar is 'n god so groot soos God?  
U is die God wat wonderdade doen; 
U het u mag onder die volke geopenbaar.  
U het u volk deur u krag gered, die kinders van Jakob en Josef. Sela

  Toe die waters U sien, o God, toe die waters U sien, het hulle gebewe, die diep waters het gesidder.  Die wolke het water uitgegiet, uit die donderwolke het dit gedreun, u weerligte het in alle rigtings geblits.  
U donderslae het die lugruim gevul, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het geskud en gebewe.  
U het deur die see gekom, u weg deur magtige waters gebaan. 
Niemand het u spoor gesien nie.  
U het u volk soos 'n kudde gelei deur die hand van Moses en Aäron."
PSALMS 77:1‭-‬21 AFR83

Ek haal my niggie se woorde aan:

"In Ps 77 het Asaf in ‘n tyd van uiterste nood na die Here uitgeroep. 
Hy het wakker gelê in die nag, GEWORSTEL. 
Hy was ontsteld, verslae en sprakeloos. 
Sy ontsteltenis het uit sy vertwyfeling ontstaan. 
Toe het hy begin nadink oor die wonderdade van God, wat God in die verlede gedoen het en daaruit kon hy sy nuwe KRAG put. 
Deur LOF en AANBIDDING kon hy wegkyk van die omstandighede en opkyk na God. 
Lof en aanbidding van die Here God verdryf VREES en VERTWYFELING. 
Wanneer ons voor nuwe beproewinge te staan kom, dink ons oor God se heiligheid en sorg. 
Hy is volkome betroubaar en tot alles in staat.
 As ons in afhanklikheid tot Hom bid, maak Hy dit vir ons moontlik om van onsself, ons vrese en ons onmoontlike omstandighede te hanteer"



Hierdie kosbare woord het my hart getref en het gemaak dat ek self Psalm 77 en meer oor Asaf wou gaan lees want ook ons het die boodskap gekry by die Here om terug te dink en te ONTHOU.




Nou die aand toe ons saam wil bid herinner die Here my skielik daaraan dat elkeen in my gesin het al by die dood omgedraai en moes menslik gesproke nie meer hier gewees het nie maar ons is. Ons het elkeen 'n verhaal van "BUT GOD" Hy hou ons in Sy hand en niks kan met ons gebeur as dit nie in Sy toelatende wil is nie. Hy is en sal nooit uit beheer wees nie.

Ons het hom deur ons storms op soveel maniere leer ken en daardie "onthou" sal ons nou bemoedig en krag gee vir hierdie nuwe beproewing op ons pad.


Hy was en is steeds by ons!!!


Asaf was in koning Dawid se diens waar hy as sanger opgetree het, hy het 'n paar psalms geskryf wat in die bybel opgeteken is o.a. psalm 50, ook Psalm 73 tot 83

Dit het my laat besef, almal van ons lê iewers in die nag wakker soos Asaf ontsteld, verslae en sprakeloos oor hierdie virus wat die wêreld lam lê, of dalk ook ander goed.
As kinders van God kan ons ook net uitroep tot ons Here in gebed.
Ons moet ook begin terugdink aan die verlede, ons eie en die van ons volk,
BEGIN DINK OOR DIE GOEDHEID VAN DIE HERE EN WIE HY IS EN WAARTOE HY IN STAAT IS, AAN SY LIEFDE VIR SY KINDERS, daaruit put ons ook nuwe krag.

Ons self het Hom leer ken as:
-  die God wat genees as die dokters nie meer hoop het,
-  as die God wat steeds wonderwerke doen, menslik gesproke die onmoontlike doen,
-  as die God van die mossie wat elke dag voorsien,
-  as die God wat ons liefhet al verdien ons dit nie,
-  as die God wat van elke haar op ons kop weet, wat ons intens persoonlik ken en voor omgee,
-  as die God wat ons leer, berispe en lei,
-   as die God wat verstaan en ons optel en nuwe krag gee as ons nie meer kan nie,
- as die God wat te toevallig om toeval te wees goed in plek laat val as ons nie uitkoms meer sien,
-  wat bonatuurlik soms uitkoms gee
-  as die God wat ons so lief gehad het dat Hy Sy Seun gestuur het om in ons plek  te sterf sodat ons gered kon word,
-  as die God wat ons nog nooit ooit verlaat het nie en altyd BY ONS IS en saam ons deurgaan,
-  as die God wat ook die slegte vir ons ten goede kan laat meewerk.
-   Ons het Hom leer ken dat al verstaan ons nie ons steeds Sy Vader hart kan vertrou,
-  want Hy is goed,
-  Hy is liefde
-   en Hy is regverdig, Awesome God!!
-  Hy is nie net ons God nie maar ook ons Vader.
-  Ons het daarom Hom leer vertrou dat Hy weet beste, Hy kan die toekoms sien en Sy perspektief is ewigheids gerig nie net hier en nou nie. Maar Hy tree ook in, in die hier en nou van ons alledaagse lewe,
-  Hy ken ons pyn Hyself het dit deurgemaak.
- Hy is ons rots,
-   Hy gee ons krag
-  en NIKS kan ons van Sy liefde skei.

Ek dink nie ons sal ooit by die einde kan kom van wie Hy is en wat Hy al vir ons gedoen het nie.
Asaf se werk was om te lofprys.  Dis dan ook wat hy hier in ps 77 doen al begewe sy moed hom aanvanklik.

Lofprysing en aanbidding is van ons as kinders van God se grootste wapens teen die vyand, en soos my niggie geskryf het, dit verdryf  twyfel en vrees.

Mag ons saam hierdie wapens opneem en mekaar tot dit aanspoor. Verskeie videos op You tube het ons gesien hoe mense by hul vensters uitleun en saam  lofprys. Een van die liedere wat weergalm het deur die leë strate was
 " Because He lives I can face tommorow, 
    because He lives all fear is gone"
Kosbaar hoe kinders van die Here mekaar bemoedig in 'n tyd soos hierdie.

Nog 'n ONTHOU Psalm

"Loof die Here, want Hy is goed
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Loof die oppermagtige God. 
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Loof die magtigste van alle maghebbers. 
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen.
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Hy het die hemel met soveel insig gemaak. 
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Hy het die aarde op die waters gevestig
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
Hy het die groot hemelligte gemaak
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
die son om te heers oor die dag, 
          Aan sy liefde is daar geen einde nie.  
die maan en die sterre om te heers oor die nag. 
          Aan sy liefde is daar geen einde nie."
PSALMS 136:1‭-‬9 AFR83

Hy onthou wie God is en van Sy almag.

Maar hier is nog iets wat ons moet onthou en nooit moet vergeet:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.  

Niks en niemand kan ons van Sy liefde skei nie, nie eers jy self nie!!!!
As Satan jou kan kry om aan JESUS se liefde vir jou te twyfel vat hy jou voete onder jou uit. Dan voel jy niks van Sy Woord en beloftes kan jy vir jouself vat nie.

"Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge  of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die LIEFDE VAN GOD
 wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie."
ROMEINE 8:38‭-‬39 AFR53

Hou dus op om dit te probeer verdien. 
Hy sterf vir ons nog voor ons gebore is of dit enigsins kon verdien.
Wees eerlik jou beste pogings is voor die Here soos 'n verwerplike kleed. Enigste wat ons saak voor God regmaak is Jesus se offer.
"Want SO LIEF HET GOD die wêreld(dus almal)gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, NIE verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom GERED kan word."
JOHANNES 3:16‭-‬17 AFR53

God word mens om te red en nie te verdelg

Soos 'n kosbare vriendin vir my vandag gesê het, hierdie liefde het nie trappe van vergelyking nie. Hy is nie minder lief of meer lief vir jou as vir my nie. Hy het net lief want Hy is liefde en Sy liefde hang nie af van wie dit verdien en wie nie.
Sy wys my ook daarop dat uit Psalm 18 dat die oomblik as die Here Sy kind wat Hy so lief het se hulp geroep hoor Hy erg daarop reageer met rook, weerligstrale en nog meer, steek Hy Sy hand na ons uit en trek ons uit geweldige waters
Kosbare Psalm, lees dit gerus heeltemal
_______________________________________________________________
Hier-en-nou-perspektief kan mens MOEDELOOS maak, 
maar ewigheids-perspektief gee HOOP.
_______________________________________________________________

In Psalm 74 is Asaf moedeloos, maar onthou dan wat die Here voorheen vir hulle gedoen het en begin Hom ook dan herinner aan Sy beloftes en pleit vir ingrype sodat die vyand nie Hom, die Here verder sal bespot nie.

Ons sien in Psalm 78 dan ook die verskil tussen:
Hulle wat ONTHOU het
" Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee, aan Israel sy onderwysing. Hy het ons voorvaders BEVEEL om dit aan hulle kinders bekend te maak,  SODAT die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel.  So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het"
PSALMS 78:5‭-‬7 AFR83

Teenoor hul wat VERGEET het
"Hulle het die verbond met God nie gehou nie, en geweier om te lewe soos Hy hulle geleer het.  Hulle het vergeet van sy werke, van die wonderdade wat Hy hulle laat sien het.  Voor die oë van hulle voorvaders het Hy wonders gedoen in Egipte, in die veld by Soan.  Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water laat opdam en dit het soos 'n muur gestaan.  Bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei, snags met die lig van 'n vuur.  Hy het rotse in die woestyn oopgekloof en soos by groot waterstrome almal se dors geles.  Hy het water uit die rots laat stroom, dit soos riviere laat vloei.  MAAR hulle het aangehou om teen Hom te sondig; in die woestyn het hulle teen die Allerhoogste in opstand gekom.  Hulle het God getart toe hulle kos gevra het na eie smaak  en God uitgedaag het: “Kan God hier in die woestyn kos gee?  Hy het wel teen 'n rots laat slaan en die waters het gevloei, spruite het gestroom; maar sou Hy ook brood kon gee en vleis aan sy volk kon voorsit?”  Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword; Hy het 'n vuur teen Jakob laat ontbrand, teen Israel sy toorn laat woed  omdat hulle nie op God vertrou het en op sy hulp staatgemaak het nie."
PSALMS 78:10‭-‬22 AFR83

En die hartseer waarheid van hulle wat God net as spaarwiel gebruik in tye van nood
"Tog het hulle bly sondig en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie.  Daarom het Hy hulle hulle dae vrugteloos laat deurbring en hulle jare vol kommer.  Elke keer as God 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle na sy wil gevra, hulle bekeer en na Hom toe gekom.  Hulle het bely dat God hulle rots, dat die Allerhoogste hulle verlosser is.  Maar hulle was vals teenoor Hom, hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie,  hulle was ontrou aan Hom, hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie."
PSALMS 78:32‭-‬37 AFR83


 Nog meer as ooit besef mens elke oggend net hoeveel genade dit is om gesond wakker te kon word om kos te hê en veral om nog mekaar te kan hê.
Begin dus jou dag met 'n dankie...

Ons is nie meer net "fans" nie maar deur Sy genade "followers"

As elkeen van ons net èén persoon kan HOOP gee deur God se Woord aan ons, met hulle te deel kan ons die wêreld verander en kan God se Woord mense deurdra in hierdie donker

Kom ons bid saam:
"Luister na my, red my tog gou. Wees vir my 'n rots om na toe te vlug, 'n bergvesting om my te red.  Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.  Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het, want U is my toevlugIn u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak
Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode; 
my vertroue stel ek in die Here.  
Ek wil jubel en juig oor u troue liefde: U was nie onverskillig teenoor my ellende nie; U het die bedreiging van my lewe raakgesien  en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie; U het my 'n veilige staanplek gegee.  Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.  My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.....

  MAAR ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God.  My tye is in u hand
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!  Verskyn tog tot my redding, red my deur u onfeilbare liefde.....

Aan die Here kom die lof toe, want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was(ek onthou).  
Ek het in my angs gedink: 
Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. 
Tog, U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het. 

 Betuig julle liefde vir Hom, julle almal wat die guns van die Here geniet. Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is, maar dié wat teen Hom opstandig is, straf Hy swaar. 

 Wees dus sterk en hou goeie moed, 
julle almal wat julle vertroue in die Here stel.
PSALMS 31:3‭-‬11‭, ‬15‭-‬17‭, ‬22‭-‬25 AFR83

"As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...!
 Vertrou op die Here! 
Wees sterk en hou goeie moed! 
Ja, vertrou op die Here!"
PSALMS 27:13‭-‬14 AFR83

Onthou my asb as ek dalk vergeet...

Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”