Is jy nie ok nie? Dis ok...



Is jy nie ok nie?
Dis ok...

Bevind jy jou vandag nie op ‘n lekker plek nie en is jy dalk op moedverloor se vlakte?
Die goeie nuus is Jesus hang nie net uit met mense wat voorgee dat alles ok is nie.

Met die Emmausgangers sien ons in Lukas 24 dat Hy juis saam met mense kom loop met somber gesigte, wat teleurgesteld en moedeloos is.
“Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop,…”
LUKAS 24:14‭-‬15 AFR83

Jesus kom na hulle toe, kom ontmoet hul op die plek waar hulle hul bevind. Moedeloos oppad terug. Hulle was dan so seker Hy was die Messias wat sou kom, die een wat alles sou kom verander.

Jesus ontmoet ook vir my en jou in ons donkerste uur van hopeloosheid. Dalk voel jy ook vandag jy was dan so seker Hy sou teen die tyd al ingegryp het en jou omstandighede verander het.
Jesus daag op selfs op die onwaarskynlikste pad van jou lewe.

JESUS DAAG ENIGE PLEK OP, ENIGE TYD! 

Jesus nooi hul uit om Hom te vertel wat so swaar op hul hart lê.
Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan,…”
LUKAS 24:17 AFR83

Jesus wil ook hoor wat jou en my so ontstel en ons laat sug, ons moet ook ‘n oomblik gaan stil staan en begin om Hom in gebed te vertel. Elia het toe hy hopeloos en moedeloos onder die besembos gaan lê het vir God vertel dat hul hom soek om ook hom dood te maak en dat net hy oorgebly het.
Dink ons dalk dat Jesus mos in elk geval weet wat ons pla en daarom praat ons nie met Hom daaroor nie. Dis juis waar ons die fout maak. Hy wil hê dat ons met Hom daaroor moet kom praat.
Ek kan Hom eerlik vertel wat in my lewe aangaan.
Stort jou hart voor Hom uit – Dawid het dit oor en oor gedoen in die Psalms.

Het Hy dan nie eerstehands geweet wat gebeur het nie, dis immers Hy self wat daardeur is, hulle was net toeskouers.
Tog lok Hy hul uit om Hom alles te vertel.
“Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”  Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.”
LUKAS 24:17‭-‬20 AFR83

Jesus is nooit ver van ons, al besef ons dit nie, maar soms maak ons vrese en hartseer ons geestelike oë dof en kan ons Hom nie sien of is die golwe so hoog en die wind so sterk dat dit amper onmoontlik raak om Hom in die storm te kan sien, wat nog te sê op Hom te bly fokus ten spyte van die storm.
“maar hulle oë is verhinder om Hom te herken…”
LUKAS 24:16 AFR83
Wat verhinder my oë op die oomblik om Hom te sien langs my loop?

Of jy Hom kan sien of nie in jou situasie maak nie saak, dit maak dit net makliker as jy kan, Hy het mos belowe Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Kyk op, hou op rondkyk!!

Wanneer ons Jesus vertel wat fout is en ons so ontstel sal ons baie keer ook in ons gesprek ons eintlike probleem openbaar: Vir die manne was dat alles waarop hulle gehoop het, nou weg is.
Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”
LUKAS 24:21‭-‬24 AFR83
_________________________________________________________________________
Ons bid so dikwels sonder dat ons dit besef òns wil
ipv God se wil vir ‘n situasie.
__________________________________________________________________________
 As hulle wil sou bewaarheid geword het sou die ganse mensdom verlore gegaan het, hulle twee inkluis.
Ons kyk na omstandighede vanuit ‘n hier en nou perspektief  ipv vanuit ‘n ewigheids perspektief. Ook Elia se sig was beperk en dis hoekom hy wou opgee, maar God kom gee hom Sy perspektief en sê hy is nie alleen, daar is nog 7000 ander.

Jesus stap saam met ons die hele pad, maar wag ook op ons om Hom in te nooi dieper in ons situasie in…
Hy maak of Hy wil aanstap, en het dit van hulle afgehang of hulle Hom wou innooi en meer by Hom hoor.
“Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly.”
LUKAS 24:28‭-‬29 AFR83

Hy het juis by hulle opgedaag sodat Hy hul kon help om God se plan te verstaan, dus wil Hy ook dieper betrokke raak in hul situasie en aanvaar die uitnodiging om by hul tuis te gaan. Hy probeer hul God se plan vertel,hul Goddelike perspektief gee deur Woord maar hul fokus te veel op die hier en nou van die situasie en maak dit hul geestelik doof en hoor hul nie… mis ons ook soms om te hoor omdat ons nie hoor wat ons wou hoor nie.

 “Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”  Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.”
LUKAS 24:25‭-‬27 AFR83
Jesus raas met hulle oor hulle onbegrip en twyfel, Hy het ook met Petrus geraas toe hy begin sink het ook sy kleingelowigheid. Maar Hy raas nie omdat Hy kwaad is nie, maar omdat dit vir Hom so belangrik is dat ons moet besef hoe uiters noodsaaklik dit is dat ons Hom glo en vertrou, want Hy weet daarsonder sal die vyand ons stukkend maak.

Dan neem Hy beheer oor en Hy breek die brood vir hulle.
Soms is net hoor van die Woord ook nie vir ons genoeg, die Heilige Gees moet die Woord vir ons oopbreek voor ons vertstaan, en dit gebeur net as ons tyd intiem saam met Hom spandeer. Honger aan sy tafel kom aansit.
“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
LUKAS 24:30‭-‬32 AFR83

JESUS ONTMOET ONS WAAR ONS IS, 
MAAR HY LOS ONS NIE WAAR ONS IS NIE.

In ‘n oomnlik verdwyn Hy, want Hy wou nie hê hulle moes daar bly waar hul, hul nou bevind nie. Hy wou hê hul moes opstaan en teruggaan na Jerusalem na die ander toe waar hul mekaar kon bemoedig en Hy Homself verder aan hulle kon openbaar.

Die verlore seun kon nie bly sit in sonde besef nie, hy moes opstaan en teruggaan na wat sy vader oorspronklik vir hom in gedagte gehad het.
In ons geval was dit om na Sy beeld te wees en op te tree, oor sonde te heers, en om met Hom intiem te wandel.

Ook Elia moes een keer die vraag antwoord:”Elia wat maak jy hier?(hier waar jy jou nou bevind onder die besembos, moedeloos in ‘n donker gat)”
So moes die Emmausgangers ook tot die besef kom wat maak hul hier, hulle hoort nie hier te wees nie en hulle staan dadelik op en gaan terug. Stel dit nie uit nie of  besluit om maar steeds daar te bly, dan sou hulle als wat Jesus vir hulle wou laat beleef gemis het. Hul het Hom geglo en vertrou en opgestaan, terugdraai op die pad waar hul hul bevind.

Jesus wil jou dalk ook nie hê waar jy jou nou bevind nie, omstandighede, mense ens het jou dalk verander en laat opeindig waar jy nou is, ver van waar God wou dat jy moes opeindig. Dalk moedeloos, bitter of hard. Draai terug en word weer wat Hý van jou wou maak, iemand vanuit wie daar strome lewende water vloei na ander in nood.

MAAK JOU OMSTANDIGHEDE JOU BITTER OF BETER?

“Hulle het DADELIK opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar,…”
LUKAS 24:33 AFR83
Hulle begin mekaar bemoedig met getuienisse. Alleen daar eenkant was hul in sak en as, maar nou tussen mede gelowiges kry hul moed.

“… Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”  Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.
LUKAS 24:33‭-‬35 AFR83

En Jesus beloof waar twee of drie in Sy Naam bymekaar is, daar sal Hy wees…
"Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”
LUKAS 24:36 AFR83
VREDE WAT ALLE VERSTAND TE BOWE GAAN

Hy ontmoet hul op hul pad van twyfel en ongeloof en bring  hul terug op die pad van geloof, hoop en vertroue. Hulle hier en nou perspektief het verander na ‘n ewigheidsperspektief van die gebeure.

ONS LEWE GAAN EINDIG OP HIERDIE AARDE,
MAAR DIT IS NIE DIE EINDE VAN ONS BESTAAN NIE.

Jesus is die antwoord, Hy verander nie. By Hom is al ons antwoorde op ons twyfel vrae en ongeloof. Hy ontmoet die ongelowige Thomas en wys hom Sy hande en voete.Hy doen wat ook al nodig is om ons twyfel en ongeloof te laat wyk, maar ons moet in Sy teenwoordigheid vertoef.

Hy is nooit klaar met ons…
Hy ontmoet jou oppad, al is dit soms op die verkeerde of afdraai pad.

Dalk besef jy nog nie dis Hy wat in jou situasie ingestap het nie…
Hy neem die inisiatief, Hy besluit om saam met ons te kom loop.
Hy sal end uit saam stap as ons Hom saam nooi.
“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
FILIPPENSE 1:6 AFR83

Dis ok om nie ok te wees nie, solank jy Jesus se hand vat wat jou weer kan help om weer ok te word.


(Uittreksels uit die preek  op Opstandingsondag Doxa -Kobus Windt)


Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”