My kant, jou kant en die regte kant
Het jy jouself al afgevra of daar nie dalk 'n ander kant van die muntstuk kan wees nie..
Ek het hom die voorkant van n R10 gewys
En vir haar die agterkant van 'n R10
En toe hulle twee om 'n tafel laat sit
en gevra: "Hoe lyk 'n R10?"
Elkeen hardkoppig om sy eie prent te verduidelik
het hulle daar gesit
en gestry en gestry
sewe dae, en sewe nagte lank
All in vain-
Sy kon nie vir Nelson sien nie
En hy nie haar renoster nie
Uiteindelik het albei uitgestorm, woedend
"Hy is verkeerd, ek is reg"
Sy het almal vertel hoe stupid hy is
Dat hy nie eers weet hoe lyk 'n R10 nie
En vir hulle haar kant met die renoster gewys
As bewys
Hy het almal vertel hoe stupid sy is
Dat sy nie eers weet hoe lyk 'n R10 nie
terwyl hy die prentjie van Nelson wys
As bewys
Sewe jaar later toe stry hulle steeds
Teen daardie tyd ook oor die R20 noot en die R50 noot
En uiteindelik besluit hulle moet maar skei
omdat hulle uitmekaar uit gegroei het
Albei heeltemal reg
Albei heeltemal verkeerd
Verswak tot 'n halwe helfte van die geheel
Net omdat nie een bereid was
om net die noot om te draai
en te kyk na die ander een se kant van die prent
om te besef dieselfde waarheid het soms meer as een gesig nie.
(Skrywer onbekend)
Comments
Post a Comment