Mag ons?
Mag ‘n kind van God al is dit net een keer uit nuuskieringheid of watter rede ookal afgode, hul tempels besoek, daarvoor buig, hul vereer, hul gebruike eerbiedig of selfs saamdoen.
Dit was die vraag op ons lippe een aand toe ons na ‘n Reis program kyk waar hulle ‘n afgod's tempel besoek en meedoen aan die rituele ens.
Iets binne ‘n mens se hart voel sommer ongemaklik,
"HERE", bid ons, "mag ons?"
"Here hoe getrou is U. U antwoord altyd as ons van U wysheid bid."
In dieselfde week ervaar Wynand, omroeper van Radio Kansel ook hierdie brandende vraag nadat hy die program Amazing race kyk en die deelnemers se volgende uitdaging is om wierook te brand ens vir ‘n goue afgod.
Met hierdie onrus en vraag in Sy hart lees hy later die aand te toevallig om toeval te wees Ps 115 in sy stiltetyd (Hy is besig om die Psalms deur te werk en dit was die volgende een om te lees)
En te toevallig om toeval te wees luister ons, die oggend toe hy hierdie getuienis op radio deel
“Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan U Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys. Waarom sou die heidene kan sê: “Waar is hulle God nou?” En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy. Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud, die werk van mensehande. 'n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie, oë het hulle, maar sien kan hulle nie; ore het hulle, maar hoor kan hulle nie; 'n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie. Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie, hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie. Daar kom geen geluid uit hulle keel nie. Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word.
ISRAEL, VERTROU OP DIE HERE! HY HELP EN BESKERM JOU(is jou skild)
Huis van Aäron, vertrou op die Here! Hy help en beskerm jou(is jou skild)
JULLE WAT DIE HERE DIEN, VERTROU OP DIE HERE! Hy help en beskerm julle(is julle skild)
Die Here dink aan ons: Hy seën, Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron, Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot. Mag die Here julle talryk maak, julle én julle kinders. Mag die Here julle seën, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee. Nie die dooies prys die Here nie, nie dié wat die graf in is nie, maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!
PSALMS 115:1-18 AFR83
Hoe kan ons voor ‘n afgod buig, al is dit net een keer? Kan en durf ons selfs hul tempels besoek onder die verskoning van nuuskierigheid of toerisme? Solank jy net nie daaraan glo nie, is dit ok sal sommige sê.
Verdien ons Here nie meer van ons? Verdien Hy nie onverdeelde trou!!?
Hy is ‘n jaloerse God, die Een wat nie dit wat aan Hom behoort met ander deel. Sal ‘n man dit goed vind as sy vrou hom net een keer so bietjie verneuk, dalk uit nuuskieringheid om te sien hoe dit is? Of bietjie flankeer. Solank sy dit nie werklik bedoel?
Nee, een keer is reeds egbreek.
Waarom sal een keer dan nie egbreek wees teenoor ons Hemelse bruidegom nie?
In Hosea sien ons dat die Here Hosea opdrag gee om met ‘n prostituut te gaan trou wat Sy volk(Sy bruid) se ontrouheid moes uitbeeld en aan hul duidelik maak hoe verkeerd hulle in Sy oë opgetree het.
“ 'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea. Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.”
HOSEA 1:2 AFR83
Ja ons hoor reg, deur afgode in ons lewens toe te laat hoereer ons en is ontrou aan ons Hemelse Bruidegom.
“Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.”
HOSEA 2:12 AFR83
Maar ek sal mos nooit voor ‘n afgodsbeeld buig, was in elk geval nog nooit in so ‘n situasie nie, hoor ek jou dalk sê.
Nie?
________________________________________________________________________________
Moenie daarvan 'n afgod maak nie, sal ons soms hoor iemand sê
“Enige iets wat ons bo die Here plaas, waarvoor ons Hom sal verloën om dit nie te verloor nie is in God se oë ‘n afgod. Enige iets wat ‘n TE in my lewe geword het. Enige iets waarop ek meer vertrou as op Hom.
________________________________________________________________________________
Dit kan jou huweliksmaat, ‘n verhouding met iemand, jou kinders, werk, geld, voertuig, letterlik enige iets wees.
Vir hierdie deelnemers was dit dalk die prysGELD en sou hul enige iets doen, selfs voor ‘n afgod buig om nie uit te val nie. Mense kan redeneer dat hul dalk in elk geval nie gelowiges is nie, wat moontlik waar is. Maar wees eerlik hoeveel gelowiges sal op daardie oomblik standpunt inneem vir hul geloof en liewer sal uitval as om te weier om hul Hemelse Bruidegom nie alleen te aanbid en voor te buig nie? Maar min.
Soms doen ons bewustelik sonde en soms onbewustelik. Dawid is deur die profeet Nathan aangespreek. Toe die koning heftig reageer op dit wat die profeet hom vertel sê die profeet vir hom "jy is daardie man"
Dalk iewers vandag kom jy onder die oortuiging van die Heilige Gees en besef jy, jy het ook al eenmaal op ‘n vakansie of iewers anders deelgeneem aan afgode rituele of afgode tempels besoek, of die Heilige Gees oortuig jou in jou hart van iets of iemand wat belangriker geword het as Hy in jou lewe. Dalk hoor jy in jou geestesoor "jy is daardie man/vrou"
Moenie soos Saul verskonings probeer maak en jouself probeer verontskuldig. Dit dalk afmaak as dit was nie my bedoeling of tog nie so erg. Saul het dit gedoen, sy manskappe blameer vir sy sonde. Nee ons leer by Dawid om dit dadelik te herken, erken, bely en om vergifnis vra.
"(7)“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid....
(13)Toe sê Dawid vir Natan: “EK HET GESONDIG teen die Here.” En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde VERGEWE: jy sal nie nou sterwe nie. Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”
2 SAMUEL 12:7,13-14 AFR83
_________________________________________________________________________________
Die GOEIE NUUS is: God vergewe 'n opregte berouvolle hart!!!
Ons kan dit ook met Jesus se hulp herken, erken en voor God bely en laat staan
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here : al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
JESAJA 1:18 AFR53
_________________________________________________________________________________
In Hosea lees ons dan ook verder
“Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie.
HOSEA 2:13-22 AFR83
“Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe "
HOSEA 3:5 AFR83
Die vraag is...
HOE TOEGEWY IS EK WERKLIK AAN DIE HERE?
SAL EK WEIER, OF SAL EK MEEDOEN?
Die keuse lê by ons – gaan ons bly agter afgode aanloop vir hulp en beskerming ens, voor ander gode buig, meedoen om tog nie uit te wees of uit vrees wat die mense sal sê of gaan ons terug draai na Hom wat ons liefhet en Hom oor ons wil ontferm?
Wil ons dan tog verder by afgode hulp soek as ons die lewende God van hemel en aarde ons Vader kan noem?
“Keer terug na die Here jou God, Israel (volk/kind van God), want jy het geval deur jou sonde. Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U: Assirië hou vir ons niks goeds in nie. Ons sal ons nie meer op wapens verlaat (vertrou)nie. Ons sal ook nie meer vir ons eie handewerk sê: ‘Ons god’ nie. By U alleen is daar liefde vir 'n weeskind.” Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is,
(9-10) Efraim, EK WIL NIKS TE MAAK HÊ MET AFGODSBEELDE NIE. Ek het jou verneder, maar Ek sal jou weer onder my sorg neem. Ek is soos 'n groen sipres. Alles wat jy het, sal van My af kom. Wie wysheid het, sal op hierdie woorde ag slaan. Wie verstandig is, sal dit ter harte neem, want wat die Here doen, is reg. Die regverdiges (bv. Dawid) lewe daarvolgens, en die opstandiges (bv. Saul) kom daardeur tot 'n val.”
HOSEA 14:2-5, 9-10 AFR83
Ons sien dus: ONS MAG NIE!!
"Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. (Ons uit genade uit die slawerny van sonde kom verlos het) Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou."
EXODUS 20:2-6 AFR53
Laat ons dan mekaar ook nie paai met dis nie so ernstig nie, maar soos Nathan gehoorsaam aan die Here mekaar aanspreek en aanmoedig om met God reg te maak, want vir Hom, sien ons, is dit ernstig.
Comments
Post a Comment