Soms wonder ek of ons in “Chameleon village" bly?

Soms wonder ek of ons in “Chameleon village" bly?


Soos ons omgewing verander, so verander ons spraak, keuses en optrede

Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man.”
LUKAS 19:2 AFR83
Saggeus was ‘n sondige man, iemand wat oneerlik wins gemaak het en homself so verryk het. Nie net ‘n tollenaar nie, maar die Hooftollenaar. Mens sou dink dat Jesus hom sou ignoreer en probeer vermy,  maar Jesus het nie, inteendeel…

“Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”  Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.  Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!”
LUKAS 19:5‭-‬7 AFR83
Jesus het in Saggeus se huis gaan eet. Die tollenaar wat sy eie volksgenote bedrieg en ingedoen het. Maar ons sien Jesus verander nie en word soos Saggeus en begin mense indoen nie. Nee, Jesus se teenwoordigheid in Saggeus se huis maak dat Saggeus verander. Hy hou op om verkeerd te doen, gaan maak reg waar hy kan.
Ook die plek verander: 'n sondaar se huis word' n wedergebore kind van God se huis. 

My Christen vriend, vriendin verander jy die plek, of verander dit jou?

Is ons soos die wind waai. Pas aan by elke groep waarby ons aansluit. By die kerk vroom, maar by die braaivleis vuur gooi ons ook so af en toe 'n vloek woord in net om darem bietjie in te wees, lag saam as daar ‘n vuil grap vertel word ens.

Die Israeliete het agter Jesus aangeloop, Sy wonderwerke wou verkry en bewonder, maar die oomblik toe hul onder groepsdruk verkeer van die Farriseers en Skrifgeleerdes, die invloedrykes van hul dag, wat teen Jesus gekant was, skree hul saam:
 “KRUISIG HOM!!”

Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.”
1 JOHANNES 2:15 AFR83

 Is ons lewe' n voorbeeld vir ander soos Jesus sin was wat ander se lewens aanraak en ten goede verander.  Of is ons verkleurmannetjies wat aanpas by omstandighede uit vrees om nie uit te wees nie?

Hoeveel keer het ons nie dalk al met ons optrede as verkleurmannetjies in werklikheid weer saam geskree :” KRUISIG HOM!” nie.

Jy sê dalk, maar dis bitter moeilik.
As kind van God is ons in staat om die plek te verander want Jesus woon deur Sy Gees in jou en my. Dis Sý teenwoordigheid in jou en my wat mense aanraak en dis die Heilige Gees wat die vernadering meebring.
"Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie."
ROMEINE 8:9 AFR83


Ons is geleer dat politiek en jou geloof privaat is, maar is dit nie lyn reg teenoor Jesus se laaste opdrag in nie. Gaan verkondig die Woord, maak dissipels, doop hul. As almal stil gebly het, dit vir hulself gehou het, sou ek dan gehoor het, sou ek dan Jesus as mý Verlosser geken het? Wie gaan dit baat, as ons stilbly? Die duiwel alleen.                                                                                    Hoe kan ons so groot genade vir onsself hou.

Ons verantwoordelikheid is om nie geheime agente vir Jesus te wees nie, maar om Hom openlik te bely en te gehoorsaam met ons lewens en Sý voorbeeld te volg.

Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.”
LUKAS 9:26 AFR83
________________________________________________________________________________
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”
HEBREËRS 13:8 AFR83
Jesus verander nie, moet jy ook nie.

Die wêreld is “Chameleon village", moenie toelaat dat dit van jóú ‘n verkleurmannetjie maak nie
_________________________________________________________________________________
Ons is wel in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld

Petrus wou sy lyf verkleurmannetjie hou toe Jesus gevange geneem is. Mense moes nie weet dat hy Jesus dien nie. Uit vrees vir mense en vervolging probeer inpas by die res. By die vuur gaan staan, selfs gevloek
Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”
MARKUS 14:71 AFR83

Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”
LUKAS 22:61 AFR83
Voel jy vandag Jesus se liefdevolle oë op jou?

En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”                           En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”
MATTEUS 26:75 AFR83

Deur sy lyf verkleurmannetjie te probeer hou, het hy daarmee Jesus 3x verraai…
Hoeveel keer wil ons dit nog doen?

GAAN VERANDER JÝ DIE PLEK, 
MOENIE DAT DIE PLEK JÓÚ VERANDER NIE!

Comments

Popular posts from this blog

Hoe donker is dit regtig, dalk stikdonker?

Daar is hoop en dan is daar HOOP...

“EK HET NOU GENOEG GEHAD, HERE,”