Ouerskap is nie vir sussies nie!!
Dis ‘n ma(ouer) ding…
Ouerskap is nie vir sussies nie!!
Maria was ANGSBEVANGE toe sy agterkom Jesus was weg
“En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom……
NA DRIE DAE het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
LUKAS 2:43, 45-48 AFR83
Na 3 minute sou ek al van my kop af wou raak wat nog te sê 3dae.
Jesus vra haar nie hoekom sy dan so bekommerd was nie, maar net hoekom hul Hom sou soek. Hy het gedink in sy kinderlike onskuld dat hul mos geweet het Hy sal wees waar Sy hemelse Vader hom wou hê.
Vir ons kinders is dit dus natuurlik om te wil groot word en wil gaan wees wie God hul gemaak het om te wees. Om daardie iets binne wat God daar geplaas het te gaan wees. Vir hulle is dit moeilik om te verstaan hoekom ons as ouers soms wens ons kan die proses vertraag. Soos my pa altyd gesê het, wens ons soms ons kan ‘n klip op hul koppe sit om hul te verhoed om groot te word.
Maria word dus nie in die Woord aangespreek omdat sy so bekommerd was nie, nee God weet dis hoe enige ouer sal voel. Hy voel so oor ons. Hy los 99 skape om na EEN verlore skapie te gaan soek. En Sy blydskap is nog groter as wat Maria kon dink om te gehad het toe sy Jesus gekry het wanneer Hy daardie skapie kry.
Josef en Maria moes hul bes doen gehoorsaam aan God se Woord en voorskrifte maar God vertrou om die res te doen.
Ons as ouers kan net die volgende doen :
- Hulle van Jesus leer en Sy Woord tydig en ontydig met hul deel en leer om dit te gehoorsaam.
“Verbind julleself heelhartig aan hierdie woorde van die Here. Bind die woorde aan julle hande as ’n herinneringsteken en dra dit as ’n teken op julle voorkoppe. Leer dit vir jou kinders. Praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy weer opstaan. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.”
DEUTERONOMIUM 11:18-20 NLV
- “Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” SPREUKE 22:6 AFR83
Moenie nalaat om jou kind in God se weë op te voed nie, die vyand toelaat om wêreldse prioriteite die fokus te maak en so jou tyd steel wat aan jou hiervoor gegun was. Moenie meer moeite doen om hul by wêreldse dinge te kry as by die geestelike dinge en dit selfs nalaat nie. Wees self die voorbeeld daarin.
Leer hulle om allereers die koningkryk van God te soek en al die ander dinge sal vir hulle bygevoeg word. Moenie die tyd waarin ons leef, die samelewing se maatstawwe volg in jou kinderopvoeding nie. Nee gebruik die Bybel en God se riglyne en hou daarby al staan jy alleen. Die samelewing se riglyne laat ons jeug stukkend, God sin hou hul veilig.
Ek het eenkeer gelees dat elke tiener jou grense sal toets. Maak dus jou grense as hul baie jonk is baie streng volgens God se Woord volgens hul ouderdom en soos hulle ouer word en meer verantwoordelik word verslap dit dan maar steeds biddend op Bybelse wysheid as riglyn, dit bou vertroue en verhouding tussen ouer en kind. Sommige sal dit steeds toets maar sal steeds veilig terug gebring kan word na God se grense. Jy sal die vark in die verhaal wees aanvanklik volgens die samelewing, ander ouers sal jou kritiseer, maar jou kinders sal jou eendag kom dankie sê, myne het, elkeen van hulle.
Hy skryf ook baie ouers maak hul grense naby die afgrond om hul kind se maat te probeer wees, maar as jou tiener dit dan toets kan hul baie seer kry, dood wees of selfs in die tronk. Dan moet menige ouers die grense strenger maak om hul kind weer veilig te probeer kry en dan is hulle die varke in die verhaal en skaad dit dan verhoudings en vertroue tussen ouers en kinders want die kind kan dan nie begryp hoekom kon hy altyd maar nou nie meer.
Ons is nie hul maats nie, ons is hul ouers met 'n verantwoordelikheid voor God. Baie het ook dan voor Hom 'n belofte afgelê om hul kinders volgens Sy weë groot te maak. Wat maak ons daarvan?
Besluit dus biddend wat jy toelaat en wat nie.
Kyk OP vir leiding en nie rond vir leiding.
"Almal doen dit" maak dit nie reg in God se oë
Moenie jou kind die toekoms instuur sonder die wapensrusting van Efes 6.
Die vyand loop rond soos 'n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslint.
As ons reëls en grense volgens die samelewing is en nie volgens God se Woord, IS ONS KINDERS NIE VEILIG NIE!
Laat my dink aan die verhaal wat ek een keer gelees het. Die mot het ‘n baie klein gaatjie in die kokon gevreet en toe probeer om deur die gaatjie te beur. ‘n verbyganger het die mot jammer gekry en die gaatjie groter geskeur sodat die mot maklik kon uitkom, maar wat die persoon nie geweet het nie is dat die proses om deur die nou gaatjie te beur nodig was vir die mot om daarna te kon vlieg. Nodeloos om te sê hierdie mot was gedoem en kon nooit vlieg nie.
Net so probeer ons alles vir ons kinders maklik maak, laat ons soms te veel toe en verhinder ons die Here om hulle voor te berei om ook eendag te kan vlieg. Die moeilike goed wat hul deur maak in die veiligheid van die konkon van ons huise is nodig in hul lewens om hul voor te berei vir hulle toekoms. Maar soos hulle groter word en hulle deur rowwe goed gaan, ipv om dit weg te vat, en baie keer kan ons in elk geval nie, moet ons God toe laat om hul stadig en versigtig deur te vat. Hul die beskerming van die kokon bied so ver ons kan, maar God dan te vertrou om hulle op die regte tyd te laat deurbreek en dan TERUG STAAN SODAT HULLE KAN VLIEG.
Maria soek ‘n seuntjie, háár klein seuntjie, maar vind ‘n jong man wat besig is om te doen wat God van Hom verwag, waarvoor Hy hier op aarde geplaas is.
Josef en Maria moes soos elke ouer hul kind opvoed na die beste van hul vermoë, maar dan hul losmaak om die jong mens toe te laat om te gaan wees wie en waar God hul wil gebruik.
So kom daar dan vir elke ouer ‘n dag van “LET GO AND LET GOD”…bitter pynlike proses maar nodig
Dis dan ook met dankbaarheid en trots dat ons as ouers terug staan en sien hoe God se plan in ons kinders, en elke ander kind se lewens ontluik.
Hoe kosbaar interessant is dit nie om elke kind wat sy of haar vlerke sprei na skool en hul ouerhuise verlaat dop te hou en te sien hoe en waar God se plan vir hul lewens ontvou. Ongelukkig mis party hul doel omdat die vyand hul aandag aftrek met die wêreldse dinge, maar dis waar ons as ouers en gelowige gemeenskap steeds nodig is om nooit vir hulle op te hou bid nie.
Ons kinders is net aan ons geleen, hulle behoort aan die Here en nie aan ons om vir altyd by ons te hou nie.
’n Pynlike werklikheid wat geen ouer maklik vind nie….BUT GOD!
Hy sal ons as ouers ook deurdra deur hierdie pynlike proses, met wysheid en die nodige krag.
Volg God se leiding in die proses, gehoorsaam Hom, en vertrou Hom ten volle Hy het ons kinders liewer as wat ons kan dink om vir hulle te wees.
LET GO AND LET GOD
Anders gaan my kinders nooit die hoogtes kan bereik wat God vir hul bestem het nie.
"Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien"
JOSUA 24:15 AFR53
Comments
Post a Comment